top of page

Lees – dis goed vir jou!

Artikel vir Netwerk24 deur Professor Lizette Rabe, 23 April 2024


Leesruimtes in die biblioteek by Zonnebloem Boys' Primary waar kinders hulself in 'n boek kan verdiep


In 1995 is Wêreldboekedag deur UNESCO ingestel op 23 April, ook die herdenking van Shakespeare se sterfdag. En nee, niemand verwag jy moet ’n Shakespeare nader trek nie. Maar kry vir jou ’n lekker boek, of dit ’n p-boek (papierboek) is, of ’n e-boek (elektroniese boek op ’n e-leser). Jy sal jouself nie ’n groter guns kan doen nie. 


Daar is soveel voorbeelde van studies oor die belangrikheid van lees, byvoorbeeld hoe ’n leesprogram mense met depressie gehelp het. Dit word selfs biblioterapie genoem. Deur slegs vir 'n paar minute per dag te lees, kan jy jou stres met 68% verminder. Boonop: Jou hartklop normaliseer terwyl jy lees, spierspanning word verlig, en jy voel selfs meer positief oor al die onstuimighede rondom ons. Dié studie sê lees se ontspannende uitwerking op jou liggaam is selfs ook vinniger as ander ontspanningsmetodes, soos om na musiek te luister. 


UNESCO het in 1995 23 April nie net as Wêreldboekedag ingestel nie, maar ook as Kopieregdag. Die twee gaan immers hand aan hand. 


Maar kry eers vir jou ’n koppie tee en ’n boek – soos wat die Britse skrywer CS Lewis, veral bekend vir sy magiese The Chronicles of Narnia, gesê het: “ ’n Koppie tee kan nooit groot genoeg wees nie, en so ook kan ’n boek nooit lank genoeg wees nie.” 


Daarby: Jy kan ’n boek as ’n stuk towerkuns met jou saamdra, soos in die woorde van die grootmeester van rillerskrywers, Stephen King: “Boeke is unieke draagbare towerkuns.” 


Veral in ’n land waar geletterdheid – en dus leesvermoë, om nie te praat van ’n liefde vir lees nie – so power is, kan ons nie genoeg doen om te sê boeke sluit vir jou wêrelde oop nie. ’n Studie het getoon 81% van Graad 4-leerders in Suid-Afrika kan nie met begrip lees nie. Dis vier uit vyf leerders. Wat nie eens verstaan wat hulle lees nie, met ander woorde. 


Maar pleks van 'n o wee! en hande in die hare, slaan ’n boek oop. Dis immers goed vir daardie stresvlakke. 


Ook: Boeke, sê UNESCO, is nie alleen ’n skakel tussen die verlede en die toekoms nie, maar ook ’n brug tussen generasies en kulture. 


Omdat Wêreldboekedag nie net oor boeke gaan nie, maar ook kopiereg – en oorlewing vir skrywers, uitgewers, en die media in die algemeen – is dit belangrik dat ons hierdie dag vier met ’n goeie boek in die hand. Deur onderwysers, biblioteke en nie-wins-ondernemings, en natuurlik, skrywers, uitgewers en die massamedia, bymekaar te bring, wil UNESCO miljoene mense reg rondom ons planeet aan die lees kry. 


“Verander gemeenskappe – boek vir boek” is nie verniet die slagspreuk van die Otto-Stigting en hul projekte nie. Die doel van dié stigting, wat begin is deur PSG-medestigter Chris Otto en sy dogter Zephne Ladbrook, is om geletterdheid te bevorder deur kinders aan te moedig om vir hul plesier te lees. Hulle doen dit deur onder meer biblioteke en leesprojekte wat veilig en kinder-geöriënteerd is. 


Nie net die kinders self word betrek nie, maar ook hul skole, families en versorgers, want deur “die wonder van boeke en stories” kan kinders leer om te hoop en te droom. 


deur die wonder van boeke en stories kan kinders leer om te hoop en te droom 

Die stigting het reeds vyf skoolbiblioteke, asook ’n lees- en terapiekamer, gevestig wat ses skole in Distrik Ses en die Kaapse middestad bedien. Die Sunflower Learning Centre, by die Zonnebloem Laerskole vir Meisies en vir Seuns, is ’n voorbeeld van hoe ’n kind die wonderwêreld van boeke – woorde, om te kan lees – ontdek met hul onderskeie programme. 


Die stigting beplan nog drie nuwe biblioteke oor die volgende 12 maande. Ladbrook, voorsitter van die stigting, sê: “Die vermoë om te lees is ’n kritieke hoeksteen vir leerders se opvoedkundige sukses. Suid-Afrika se onderwys-uitdagings is kompleks en divers, maar daar is eenvoudige oplossings wat ’n groot verskil kan maak.” 


Sy sê daar bestaan verstommende bewyse dat toegang tot interessante, relevante boeke, en inisiatiewe wat lees vir genot aanmoedig, ’n reuse-impak het op geletterdheidsontwikkeling. En wanneer kinders lees, “sal hulle woordeskat, taalgebruik, skryfvaardighede en kennis van die wêreld verbeter”. 


Die uitvoerende hoof van die Otto-Stigting, Frouwien Bosman, meen boeke leer vir kinders meer oor hulleself en oor die wêreld. “Kinders wat lees vir genot het beter leesvaardighede en vaar beter op skool.” Sy sê navorsing wys ook dat “lees vir genot” meer bepalend kan wees vir kinders se akademiese prestasie as die sosio-ekonomiese omstandighede waarin hulle grootword. Daarom is boeke en leesprogramme sulke “kragtige instrumente” in Suid-Afrika met sy hoë inkomste-ongelykheid en waar “onderwysuitkomste so dikwels gekoppel is aan huishoudelike inkomste”. 

Soos Bosman sê: “


Die eerste stap om ’n leeskultuur te vestig, is om vir kinders toegang te gee tot diverse, relevante boeke wat spreek tot hulle leefwêreld en wat hul horisonne verbreed.” 


Wêreldboekedag skryf nie ’n tema voor nie, maar hoop dat skole, biblioteke, gesinne – almal wat by opvoeding betrokke is – “lees vir plesier” sal aanmoedig. Een belangrike element is dat gereeld vir kinders voorgelees moet word. 


Begin vanaand om ’n storie vir jou kind of kleinkind te lees. En kry vir jou ook ’n boek. Dit kos niks om by ’n biblioteek aan te sluit – gaan kry vandag nog jul biblioteekkaartjies. 


Soos dit lui: WOW! Woorde Open Wêrelde. 


Lizette Rabe is emeritus professor aan die Universiteit Stellenbosch en ’n onrehabiliteerbare bibliofiel. 

bottom of page